Jaargang 43
April 2021
Foto: Netflix

Die koningin van Engeland, Elizabeth II, en haar uitgebreide koninklike familie van prinse en prinsesse, het oor dekades heen gewone mense (dis nou diegene sonder titels en kastele) gefassineer. Die publiek was nog altyd geïnteresseerd in paleis-intrige en wou nog altyd weet wat regtig agter die geslote deure en gietyster-hekke van die koninklikes en hulle paleise aangaan.

The Crown, Netflix se nuwe historiese televisiedrama, het wêreldwyd opslae gemaak en ‘n hernude belangstelling in die doen en late van die Britse koninklike familie aangewakker.

Die reeks vertel die storie van Koningin Elizabeth II, haar lewe en hoe sy die oudste monargie in die geskiedenis help om die 20ste eeu te oorleef.

Die reeks begin in 1947. Seisoene 1 en 2 handel grootliks oor die heerskappy van die koningin tydens die 50’s en 60’s, terwyl seisoen 3 en 4 twintig jaar later begin en oor haar heerskappy tydens die 70’s en 80’s handel. Van vroeg af is besluit dat akteurs nie aan ure se grimeersessies onderwerp sou word om hulle karakters te verouder nie. Die akteurs sou eerder na elke 2de seisoen vervang word met nuwe akteurs, wat die karakters beter kan uitbeeld soos hulle verouder.

The Crown-kykers sal saamstem dat die akteurs wat vir die reeks gekies is, sterk uiterlike ooreenkomste toon met die karakters wat hulle vertolk. Die meeste van die akteurs is Britte, maar moes tog steeds ten spyte van hul Britse aksent, die aksent van die koninklikes aanleer, wat soos ‘n dialek op sy eie is. Tesame met die aksent, moes hulle oefen om ‘n goeie postuur en uitdrukkingsvolle oë te hê, asook die vermoë om betekenis met hul kaak oor te dra (iets wat eie is aan die adellikes).

The Crown hervertel die drama en intrige in die persoonlike lewens van die prominente koninklike familie en speel af teen die agtergrond van fassinerende geskiedkundige gebeure.

Alhoewel die reeks slegs ‘n fiktiewe drama is, probeer die skrywer, Peter Morgan, ‘n balans tussen die dramatisering van die koninklikes se private lewens handhaaf, sonder om van werklike gebeure af te wyk.

Sommige kenners is egter van mening dat die uitbeelding van gebeurtenisse ver van die waarheid afwyk.

Die Britse regering sê dat daar gereeld teenstrydige stories vertel word wanneer TV geskiedenis dramatiseer. Al sorg dit vir ‘n goeie storielyn, kan dit onregverdig wees, want dit is nie net geskiedenis wat in die slag bly nie, maar ook mense se lewens.

Sommige mense wat tyd met die koninklike familie deurbring of met hulle werk, is van mening dat die karakters in The Crown oppervlakkig uitgebeeld is en dat die skrywer van die reeks grotendeels staat maak op mediaberigte, onderhoude en openbare toesprake vir inligting oor die familie.

Ten spyte van die kritiek het die reeks wêreldwyd gewild geword.

Danksy die gewildheid van prins Harry en Meghan Markle, asook die Britse troonopvolger, prins William en die stylvolle Kate, kan die wêreld nie genoeg van die Britse koninklikes kry nie. Dit het beslis tot die sukses van die reeks bygedra.

Lees Verder

Herbeplan jou biologiese klok voor dit té laat is

Leanri Pretorius

Hertz: Merkwaardige verskille tussen mens en dier

Janike Smith

Vure verwoes Afrika-artefakte onherstelbaar

Hellmuth Weich

Herontdek die storie agter ‘n goue idioom

Renska Krynauw