Jaargang 43
April 2021
Foto: Axel von Loggenburg

Het jy al ooit gewonder hoekom jy op ‘n spesifieke tyd gaan slaap of wakker word? Dít is te danke aan jou sirkadiese ritme.

Sirkadiese ritme, of jou biologiese klok, is ‘n natuurlike proses wat jou slaap-wakker-siklus beheer. Dié siklus herhaal homself omtrent elke 24 uur en word deur faktore soos blootstelling aan lig, genetika, omgewingstemperatuur en selfs die kos wat jy eet, beïnvloed.

Is jy een van daardie mense wat elke oggend moet skarrel om reg te maak vir skool omdat jy al weer verslaap het? Daar is ’n goeie kans dat jy al verskeie metodes probeer het om jou slaapsiklus aan te pas, maar om een of ander rede verval jy altyd in jou ou gewoontes. Wees gerus, dit is nie heeltemal jou skuld nie. Wetenskaplikes het bevind dat genetika ’n groot rol in jou slaappatroon speel. Dit bepaal byvoorbeeld of jy ‘n naguil of oggendpersoon is. Geestesgesondheidsversteurings, soos depressie, waarin genetika dikwels ’n rol speel, beïnvloed ook jou slaappatroon. Een van die simptome van depressie is dat die persoon vroeg wakker word en later insomnia kan ontwikkel. Jou sirkadiese ritme word dus versteur omdat jy nie ’n gereelde slaappatroon kan volg nie.

‘n Mens kan nie self jou biologiese klok beheer nie, maar jy kan dit beïnvloed. Jou liggaam se blootstelling aan direkte sonlig en hitte sal byvoorbeeld na ‘n rukkie ’n invloed op jou sirkadiese ritme hê. Laboratoriumwerkers kry nie veel blootstelling aan sonlig nie en dus herhaal hulle slaap-wakker-siklus eers sowat elke 24,2 uur. As jy na ‘n ander land toe vlieg, kan jy vir ’n tydjie aan jet lag ly as gevolg van die verandering in tydsones of klimaat. Dit kan selfs gebeur dat jy na Arktiese land toe vlieg met geen sonlig nie. Na ’n tydjie sal jou sirkadiese ritme egter aanpas by jou nuwe omstandighede.

Hoe beïnvloed jou sirkadiese ritme jou daaglikse lewe? As jy elke aand omtrent halfelf gaan slaap, sal jy elke aand van halfelf af begin moeg raak. Ons biologiese klok reguleer ook ander liggaamsaktiwiteite, soos etenstye. As DF elfuur pouses het, gaan jy honger raak van elfuur af, al is jy nie by die skool nie.

Jou sirkadiese ritme is baie belangrik. Die effek wat dit op jou lewe het, indien jy dit nie reg beheer nie, kan kommerwekkend groot wees. Ons kan nie die aard van ons sirkadiese ritme beïnvloed nie, maar ’n gesonde roetine en bewustheid oor die faktore wat ons sirkadiese ritme kan beïnvloed, kan ons net baat.

Lees Verder

Herhaling van pandemies: siklusse van menslike foute?

Renska Krynauw

Herfs

Leah Coetzee

Heroorweeg

Emma Craucamp

Herlees: 3 redes waarom jy Classics moet lees

Renke Lorio