Jaargang 43
April 2021
Foto: Emma Olivier

Daar word geglo dat die vegan se leefstyl slegs van korte duur is. Ouers spot gewoonlik dat dit net ‘n fase is waardeur hulle tiener gaan, totdat daardie fase homself stewig vestig en die stigma van “dit is net ‘n gier” oorskry…

Dit is hiérdie mense wat bydra tot die GROOT-skaalse vermindering van skadelike kweekhuisgasse en wat help verhoed dat die wêreld se natuurlike hulpbronne, soos water en landoppervlakte, heeltemal uitgeput word.

Dit is veilig om te sê dat hierdie mense se harte harder klop vir enige iets wat lewe, en dít stel my gerus. Vegans is die Moeder Teresas van ons aarde: mense wat die smake van KFC, ‘n Ocean Basket-pannetjie (“be careful nana, it is very hot”), die steak wat jou pa elke Saterdag braai, asook ‘n doodgewone kaasbroodjie sal agterlaat. Ja: vegans eet nie vleis, vis, of enige suiwelprodukte nie. Superhelde, as jy my moet vra.

Ek gesels met Tine Boot in graad 12. Ek is skuldig daaraan om haar in pouses al te gespot het (let wel: ons was baie klein en onopgevoed in graad 9, so enige iets vreemd het vermaak verskaf) en elke keer het sy ‘n Oscar-waardige antwoord op my stellings verskaf. In ons onderhoud, vra ek weer die vrae waaroor almal nuuskierig is en wat sy heel waarskynlik ‘n honderd keer per dag ontvang.

“Waar kry jy voldoende proteïene?”

Bone, spinasie, tofu en plantgebaseerde vleis soos Beyond meat. Diere kry ook hulle proteïene vanaf plante, wat beteken dat húlle dan sekondêre proteïene word en dus nie as meer voldoende geag kan word nie.

“As ons nie diere produseer om te eet nie, gaan hulle uitsterf.”

Diere word op grootskaal geteel om geëet te word, maar dit is mense wat hierdie onnatuurlik omstandighede behou. As ons hulle nie eet nie, sal daar ‘n verminderde vraag na vleis wees en dus sal hulle minder vleis produseer. Uiteindelik sal die hoeveelheid diere wat geslag word, net minder raak, maar spesies self sal nie uitsterf nie.

“Om vegan te wees is so duur…”

Dit is soos enige ander dieet. Jy het ‘n keuse om dit duur of goedkoop te maak. Ek koop die meeste van die bestanddele rou en maak dit self by die huis. Ek weet dan ook presies wat ek inneem. Rys en bone is byvoorbeeld die goedkoopste en mees voedsame bronne beskikbaar by enige supermark.

“Ons verlig koeie wanneer ons hulle melk, omdat hulle konstant melk produseer.”

Nee, hulle produseer nie konstant melk nie. Hulle is soogdiere, net soos mense. Wat in die melk-industrie plaasvind, is dat die koeie onder dwang bevrug word. Hulle gee geboorte aan ‘n kalfie en die kalfie word van die mamma gedurende die eerste dag na geboorte weggevat. As die kalfie ‘n wyfie is, word sy in die suiwelindustrie gebruik; as dit ‘n mannetjie is, word hy later geslag. Koeie produseer slegs melk nadat hulle geboorte gegee het, dus herhaal hierdie siklus konstant en dit is vreeslik traumaties vir hierdie diere.

Tine het besluit om ‘n vegan te word omdat sy uitgevind het wat met die diere in die voedselindustrie gebeur. Sy wil dit nie ondersteun nie. Die oorskakeling was vir haar baie maklik, want sy was nooit mal oor die idee van vleis nie. Dit het egter lank gevat om die regte gebalanseerde vegan dieet te vestig, maar dit is alles die moeite werd. “Ek voel fisies en geestelik beter. Ek stel baie belang in en het al baie kennis opgedoen oor die leefstyl: ek glo vas in die stelling you are what you eat.”

Lees Verder

Her Majesty en die televisie

Kyla van der Riel

Herrys van modes uit die verlede

Emma Craucamp

Hertz: Merkwaardige verskille tussen mens en dier

Janike Smith

Herfs

Leah Coetzee