Jaargang 43
April 2021
Foto: Emma Olivier

Voordat jy hierdie artikel lees, wees asseblief bewus daarvan dat dit sensitiewe onderwerpe bespreek. Indien jy sensitief is vir verwysings na boeliegedrag, haatspraak en selfdood, oorweeg dit om nie hierdie artikel te lees nie, of lees dit saam met iemand wat jy vertrou.

1 uit 10. Vir elke tien jongmens-lewens wat eindig, is een van daardie tien aan hul eie hand. Volgens die Suid-Afrikaanse Vereniging van Psigiaters het 20% van hoërskoolleerders in Suid-Afrika al probeer om hul eie lewe te neem, ongeag of die poging tot hul dood gelei het.

Sit asseblief en dink oor hierdie statistiek en besef wat dit beteken. As ons hierdie statistiek van toepassing maak op die Hoërskool DF Malan, sal dit uitwerk dat ongeveer ‘n hele graadgroep al probeer het om hul eie lewens te neem.

Vlakke van depressie en angs onder jongmense en tieners neem teen ‘n kommerwekkende spoed toe. Volgens NetCare ervaar 20% van tieners op ‘n stadium van hul hoërskoolloopbaan, probleme met hul geestesgesondheid - ‘n skrikwekkende getal. Probleme sluit in, maar is nie beperk nie, tot angstigheid, depressie en trauma.

Verlede November het twee leerders in ‘n Paarl skool twee dae uit mekaar hul eie lewens geneem. Die eerste leerder het geen verduideliking agtergelaat nie en die tweede leerder het in ‘n boodskap verduidelik wat die redes was. In hul boodskap skryf sy dat haatspraak die rede was vir haar dood.

Ons besef nie aldag hoe ons aksies ander kan beïnvloed nie. Ons hoor dit oor en oor, maar ons besef nie wat in ander se lewens aangaan nie. Ons besef regtig nie. Jy mag dalk nou sit en dink: “Ek is nie deel van die probleem nie; ek moet deel wees van die oplossing!” As dit jou mentaliteit is, is die kanse onwaarskynlik dat jy deel is van die oplossing. Jy is nie ‘n held as jy nie jouself skuldig maak aan boeliegedrag en haatspraak nie. Jy doen wat ‘n gewone mens doen. As jy die held wil wees wat jy glo jy is, raak betrokke. Spreek jou vriende aan as hulle problematiese gedrag toon en help die kind wat jy sien sukkel. Praat met jou vriende en hoor of daar iets is waarmee jy kan help. Gaan praat met die kind wat pouses alleen sit. Hou jouself verantwoordelik vir dinge wat jy al gesê het (en tans dalk self sê!) en bly weg van woorde en uitdrukkings wat jy weet pyn veroorsaak.

Die tyd vir verandering is nou. Te veel lewens is beëindig as gevolg van ander se aksies. Wees jy die verskil.

Lees Verder

Herrie oor groen goud

Juliette Behr

Herontdek die storie agter ‘n goue idioom

Renska Krynauw

Herhaling van pandemies: siklusse van menslike foute?

Renska Krynauw

Heroïese werk van skoolsekuriteitswagte

Emma Olivier