Jaargang 43
April 2021
Foto: Bianca Stander

In November 2019 het mense in China die eerste tekens van ‘n vreemde siekte getoon. Eers in Januarie 2020 het die wêreld werklik daarvan bewus geword. In die tussentyd het COVID-19 vinnig begin versprei. Sedertdien veroorsaak dit wêreldwye chaos en baie fisiese sowel as emosionele lyding. Elkeen van ons is reeds tot verskillende mates daardeur geraak.

Dit is egter nie die eerste en sal ook nie die laaste pandemie wees wat die wêreld beleef nie. Een van die berugste pandemies wat daarvoor bekend is dat dit meer as ‘n derde van die Europese bevolking uitgewis het, was die “Swart Dood“ in die 1300’s. Die sterftesyfer is beraam as minstens 75 miljoen tot soveel as 200 miljoen. Dit was ‘n verskriklike tydperk en ‘n mens sou verwag dat alle moontlike aksies geneem sou word om weer so ‘n situasie te vermy. Tog kan ons sien dat van die aanvanklike foute wat destyds gemaak is, in 2020 herhaal is.

Daar was aanvanklik min inligting beskikbaar en daar bestaan steeds uiteenlopende sienings oor die effek van die nuwe 2019-virus. Daar is wel gou agtergekom dat vergelykenderwys met die 2003-SARS- en die 2012-MERS-coronavirusse, ‘n baie kleiner persentasie mense gesterf het aan COVID-19. Daar is boonop gehoop dat die virus, soos SARS, binne 4 maande onder beheer sou wees. Die feit bly staan dat COVID-19 net soos die Swart Dood buite beheer versprei het. Dit is egter van kardinale belang dat daar hierdie keer uit die foute geleer word om toekomstige potensiële pandemies beter te beheer.

Toe die Swart Dood in 1347 reeds ‘n werklikheid in China was en Europa daarvan gehoor het, het pelgrims en handelsskepe nogtans tussen Europa en die besmette areas gependel, sonder om voorsorgmaatreëls te tref. 12 sulke skepe het byvoorbeeld in Italië aangekom met die meeste mense aan boord reeds dood of dodelik siek. Die Sisiliaanse owerhede het hierdie “vloot van die dood“ uit die hawe verban. Dit was egter te laat en die siekte het daarvandaan onbeheersd deur Europa versprei.

Eers heelwat later is die nou alombekende kwarantyn geïmplimenteer en bote moes 40 dae buite die hawe geanker lê. Die pandemieverspreiding is eers na vier jaar gestuit toe alle mense self isolasie toegepas het. Parallel hieraan, het COVID-19 moontlik in ‘n pandemie ontaard omdat voorsorgmaatreëls ook te laat toegepas is. Vliegtuie het aanvanklik steeds passasiers vryelik tussen kontinente vervoer en maskerdra was nie verpligtend nie.

Ons het gesien dat kwarantynreëls wat isolasie oftewel sosiale interaksie beperkings ingesluit het, telkens die verspreiding vertraag het. Sodra reëls egter opgehef word, sien ons weer ‘n duidelike styging in daaglikse gevalle. Ons kan egter nie gedurig in afsondering bly leef nie, dus: tref voorsorg en wees verantwoordelik.

Lees Verder

“Herrie” en ander minder bekende neologismes

Kyla van der Riel

Herfs

Leah Coetzee

Hermiet

Leah Coetzee

Herbeplan jou biologiese klok voor dit té laat is

Leanri Pretorius