Jaargang 43
April 2021
Foto: Emma Olivier

Van die stadige pas, sosiale verwikkeldhede en innerlike stryde van Jane Austen se karakters, tot die ellelange filosofiese werke van Tolstoy – klassieke literatuur dek alles van alledaagse nietighede tot gedagtes so kompleks dat dit 900 bladsye neem om ten volle uit te druk. Klassieke literatuur behels werke wat die grense van tyd, klas en lande oorskry om steeds vandag, soms na honderde jare, relevant te wees.

Elke keer wat jy ’n classic herlees, ontdek jy iets nuuts. Die werke wat as classics beskou word kom in talle verskillende genres en lengtes voor. Dié romans gee ons ’n blik in hulle tydvak in en beeld temas uit wat sentraal aan menswees is, soos selfontdekking, uithouvermoë in moeilike tye en die hantering van sosiale druk.

Almal kan dus daarby baat deur om elke nou en dan een van die Brontë susters of Dickens se romans op te tel. Hiermee volg 3 redes waarom jy die classics moet lees.

Klassieke literatuur laat jou vir ’n oomblik dink.

Ons lewe in ’n wêreld wat gekenmerk word deur die vinnige pas waarteen ons lewe. Die tydvak van die internet en sosiale media bombardeer ons só met inligting dat ons aandag afleibaar geword het. Daar is áltyd iets nuuts wat jy móét sien. Dit het daarnatoe gelei dat ons gewoonlik alles wat ons lees, vluglees en slegs oppervlakkig oor konsepte dink om by te bly by die konstante stroom inligting waarnatoe ons toegang het.

Classics is van natuur boeke wat jy nie kan vluglees nie. Dit is deur diep denkers geskryf wat in ’n stadiger era geleef het en soms jare aaneen gedink het oor die onderwerp van hulle boek. Deur klassieke literatuur te lees, dwing jy jouself om vir ’n oomblik stil te sit en te fokus om dit wat voor jou is werklik te begryp. Om goed te kan dink is ’n waardevolle vaardigheid vir alle areas van die lewe, maar ene wat ons hedendaagse lewe ongelukkig dikwels afskeep.

Verbeter jou taalvermoë.

Het jy al ooit gevoel jy wil iets sê, maar jy weet net nie hoe om jouself uit te druk nie? Taal, nes alles, is iets wat ’n mens moet oefen. Jy sal wel nie al die woordeskat in Shakespeare se werke in die alledaagse lewe kan gebruik nie, maar om daardie deel van jou brein te oefen, sal steeds jou algehele vermoë om jouself uit te druk, verbeter. Weereens, is dié nog ’n handige vaardigheid om in die lewe te hê.

Plaas jouself in ander se skoene.

Nog ’n kenmerk van klassieke literatuur is dat die karakters dikwels deur baie karakterontwikkeling gaan. Jy stap ’n pad met ’n karakter wat uit ’n ander tyd en wêreld as jy kom, maar tog leer jy dit waardeur hulle gaan, verstaan. Om jouself in die karakter van ’n boek in te leef, help jou om in die regte lewe empatie met ander te hê.

Klassieke literatuur is nie iets om te vrees nie. Dit is bloot die uitbeelding van dit wat iemand, nes jy, lank gelede gedink en gevoel het.

Lees Verder

Herhaling van pandemies: siklusse van menslike foute?

Renska Krynauw

“Herrie” en ander minder bekende neologismes

Kyla van der Riel

Vure verwoes Afrika-artefakte onherstelbaar

Hellmuth Weich

Herbeplan jou biologiese klok voor dit té laat is

Leanri Pretorius