Jaargang 43
April 2021
Foto: Emma Olivier

Daar is ‘n handjievol goed in die lewe wat geld nie kan koop nie. Dit sluit in: tyd, geluk, vriende, drome, liefde, gesondheid en natuurlik – avokado’s by Woolworths. Oftewel enige winkel.

Op iets so eenvoudig soos geroosterde witbrood tot deel van ‘n sjokolade mousse. ‘n Avokadopeer is bloot net almal se gunsteling. Mammas sal hulle laaste sente uitgrawe vir ‘n brokkie van dié luukse romerigheid.

Goud is duur, want dit is skaars.

Avo’s kos tans omtrent R62,99 vir twee. Dit is menslik om net te aanvaar en vir die lekkerte te betaal, maar dis ook menslik om te wonder – hoekom is die prys wat dit is?

Daar is verskeie insette nodig om die perfekte groen vrug te laat groei. Genoeg (en ek bedoel genóég) water, kunsmis, bome wat gesnoei moet word, insekte- en pesbeheer en selfs beskerming teen die son! Dit is slegs harde arbeid en spesifieke vereistes wat ‘n goeie oes kan verseker.

Moet ook nie vergeet van die samelewing waarin ons leef nie – mense raak al hoe meer bewus van dit wat op hulle bord kos is. ‘n Avokado is sinoniem met superkos. Hierdie vrug is ongelooflik dig met nutriënte en die tipe vet wat ‘n avo bevat, is bekend as mono-onversadigde vette. Dit is voordelig vir jou are, en uiteindelik jou hart ook.

Maar die berge het ‘n muis gebaar, want met pryse so hoog, het die avokado bedryfsektor diefstal aangetrek, net soos wat ‘n goue ketting uit ‘n juwelierswinkel gesteel sal word. Boorde en vervoertrokke word daagliks beroof. In Nieu-Seeland, is elektriese heinings en bewapende nagpatrollies ingestel nadat ‘n boer in Noordland (‘n eiland in Nieu-Seeland) van 70% van sy oes beroof is. In Michoacán, Meksiko, waar 80% van Meksiko se avo’s gekweek word, word vier trokke daagliks beroof; hierdie diefstal ontaard in gruwelike geweld. En dit net oor ‘n vrug?!

Vanselfsprekend lei goud tot kriminele agter tralies. Wie sou egter gedink het dat ‘n onskuldige avokadopeer dit kon bemagtig?

Dit is ‘n sensasie (#avokado) met ‘n gevaarlike agtergrond.

Dit is uit-en-uit groen goud.

En ek is nou lus vir ‘n avokadobroodjie.

Lees Verder

Hertz: Merkwaardige verskille tussen mens en dier

Janike Smith

Herrys van modes uit die verlede

Emma Craucamp

Vure verwoes Afrika-artefakte onherstelbaar

Hellmuth Weich

Herkén jy die naam?

Emma Olivier en Renke Lorio