Jaargang 43
April 2021
Foto: Shianne Brand

Vind jy ook deesdae ‘n klomp klere in jou ouers se kaste wat nou in die mode is? Wens jy jou ma het daardie paar Doc Martins van haar gehou? Ou style maak ‘n terugkoms in die hedendaagse mode.

Dit voel asof modes van klere al bestaan en verander het vandat mense op hierdie aarde begin loop het. Styl word beïnvloed deur die ekonomie, beroemde mense en die beweging om materiaal en klere te herwin.

‘n Gewilde opsie vir klere koop onder tieners is deesdae om tweedehandse klere te koop. Dit het begin met die idee dat die manier hoe hedendaagse klere vervaardig word, oneties is deur, byvoorbeeld, kinderarbeid te gebruik of om nie-herwinbare materiaal te gebruik en te vermors. So het baie ou snitte en style van klere terug in die mode in gekom.

Natuurlik verander dit steeds deur die jare. In 2017 en 2018 was broeke wat hoog om die middel sit en hemde wat van die skouer af hang vreeslik modieus. Dit was ook ‘n gewilde styl in die 80’s. In 2019 het die 90’s styl teruggekeer met byvoorbeeld meer neutrale kleure, chokers en baie denim. Sedert verlede jaar is dierpatrone, leer, korsette en komplimentêre kleure weer in die mode.

Die modewêreld is in ‘n ewige siklus wat na die verlede terugkyk om nuwe modes op toepassing van ‘n nuwe tydperk te skep. Dit neem ‘n ruk vir modes om gewildheid te verloor en dan weer terug te keer. Ons kan vandag uitrustings sien wat deur die 70’s geïnspireer is, maar ons kan ook al sien hoe y2k-style nou ‘n terugkoms maak. Dit is te danke aan ‘n term wat in die mode-wêreld as die 20-year rule bekend staan. Jy kan dus heel moontlik verwag om nog dierpatrone, broeke wat laag om die heupe hang, en ander Paris Hilton-agtige kombinasies te sien. Ons sal moontlik egter ook eggo’s van die 60’s en selfs die 1920’s sien.

Die modes van die volgende paar jaar sal natuurlik nie ‘n blote kopie van die verlede wees nie, maar liewer inspirasie uit die verlede neem om innoverende modes te skep.

Voorspellings word gemaak oor watter style volgende in die mode sal wees, maar dit is ‘n feit dat jong mense die mode-industrie heeltamal verander en dat ouer style sal aanhou om huidige en toekomstige modes te beïnvloed.

Lees Verder

Herbeplan jou biologiese klok voor dit té laat is

Leanri Pretorius

Herontdek die storie agter ‘n goue idioom

Renska Krynauw

Her Majesty en die televisie

Kyla van der Riel

Herfs

Leah Coetzee