Jaargang 43
April 2021
Foto: Bianca Stander

Die visie van DF wat ten volle ‘n ongeskiktheidsvriendelike skool sou word, het dikwels gevoel soos ‘n vae en onuitvoerbare idee. Die gedagte het vir jare in die lug gehang, aangesien die skool se begroting volgens ander prioriteite beplan moes word. Dit is egter totdat meneer en mevrou Wessels uiteindelik dié behoefte met die korrekte hulpbronne aangepak het, dat só ‘n droom nou deel van die realiteit kan vorm. So het die Wassetrap-projek ontstaan.

Die Wessels-familie het die projek se konsep en plan voorgestel. Hulle het ook kontakte gehad wat die konstruksie van hysbakke en opritte kon deurvoer. ‘n Finansiële bydrae van hul kant af het die skool in staat gestel om die proses aan die gang te sit. Hulle is die trotse ouers van Leon Wessels, ‘n leerder wat by DF skoolgaan. Leon het ‘n behoefte vir ‘n rolstoelvriendelike terrein by die skool gehad, terwyl hy nog steeds aan die hoë akademiese aard van die skool kan deelneem. Hy is dus hul motivering om die projek tot ‘n bestaan te bring, maar ook om dit deel van DF se geskiedenis te maak en vele talentryke leerders wat soortgelyke ondersteuning benodig, te akkommodeer.

Opritte is reeds regoor die skoolgrond aangebring. Die hysbakke se konstruksie in die hoofgebou is amper klaar. Die sperdatum vir die hysbakke is egter uitgestel. Die geraasvlakke het verhoed dat konstruksie gedurende skooltyd sou kon plaasvind, omrede dit te veel onwrigting in klasse veroorsaak het. Boutye is dus na skool en op naweke geskeduleer om die verlore tyd deur die week op te vang. Die skoolterrein behoort binne die volgende paar weke ten volle rolstoelvriendelik te wees! Hierdie is nog steeds met die UK-gebou uitgesluit, aangesien fyner beplanning vir daardie deel van die skool sal moet volg.

Terwyl die projek nog aan die gang is, is menigte sy-projekte ter ondersteuning gestig om geld in te samel en die algehele sukses van die taak te verseker. Deur van roomyse tot kleurvolle maskers te verkoop, het verskeie seksies van elke graad hulself deel van Wassetrap gevestig. Indien u ‘n finansiële bydrae tot die projek wil lewer, kan u dit op enige van die onderstaande wyses doen:

Borg materiaal vir die projek (kontak mnr. G. Kotze by adjunk@dfmalan.com).

Skandeer die Zapper-kode hieronder en vul die velde in met jou naam en die woord “Wassetrap”.

Maak ‘n inbetaling in die skool se rekening (besonderhede hieronder).

ABSA TJEKREKENING
Rekeninghouer: Hoërskool DF Malan
REKENINGNOMMER: 340 390156
TAKKODE: 632005
VERWYSING: Naam en van en “Wassetrap”

Lees Verder

Herdenking: Woorde, aksies en vorentoe

Cara Reyneke

Herkén jy die naam?

Emma Olivier en Renke Lorio

Herbivoor: nie net van toepassing op vier-voetiges nie

Juliette Behr

Herrie oor groen goud

Juliette Behr