Jaargang 43
April 2021
Foto: Lerato Maduna vir UCT News

Twee verskillende vure het dié jaar die Wes-Kaap geterroriseer. Die eerste was in Maart in Jonkershoek en die tweede onlangs in April naby Kaapstad.

Die oorsake van die Jonkershoek-brand is steeds onbekend. Die toestande, hoë temperature, droë, vlambare fynbos en sterk winde, was ideaal vir die verspreiding van die vuur.

Inwoners van Stellenbosch het eers ‘n oranje glans in die lug waargeneem. Tatum Commaille, student by Rhenish Meisieskool en individu wat die kleur oranje baie interessant vind, het die volgende daaroor te sê gehad:

“Een van die mees apokaliptiese oomblikke wat ek ervaar het, was dié: Ek het wakker geword om ‘n glas water te gaan haal gedurende die nag... deur die venster van die badkamer kon ek spore van vuur sien uitstrek oor die berg, wat ons al vir ‘n paar dae nie kon sien nie, omdat die rook hulle heeltemal versteek het.”

Meer as 13,600 hektaar grond is deur die vure verwoes, maar behalwe vir die verskuiwing van ‘n nabygeleë township, was daar geen eiendomskade of lewensverliese nie.

Die Kaapstad-vuur het Sondag 18 April opgesteek. Toestande was soortgelyk aan dié in Jonkershoek, met hoë winde, warm middagtemperature en droë fynbos.

Die eerste geboue wat deur die brand beskadig is, is die Rhodes Monument Restaurant en Teetuin. Tien ander geboue is later vernietig oor die volgende drie dae, onder andere die historiese 225-jaar oue Mostert se Meul (die oudste volledige meul in Suid-Afrika), twee residensiële strukture, ses geboue op die UK Rondebosch-kampus en die leeskamer van UK se Jagger-biblioteek.

Talle onvervangbare artefakte in die Jagger-biblioteek se argiewe is deur die vuur vernietig. 3,500 skaars Afrika-films (een van die grootste versamelings van Afrika-films in die wêreld) is hier aangehou en was in die proses van digitalisering. Ongelukkig was dit ‘n langdurige en arbeidsintensiewe taak en slegs ‘n klein proporsie van die kunswerke is al gedigitaliseer. Die res is nou vir ewig verlore saam met verskeie ander unieke manuskripte, boeke en briewe oor Afrika-geskiedenis en die waardevolle Bleek en Lloyd versameling van notas en sketse wat die kultuur van die San dokumenteer.

Rakende die totale skade van die vuur, het Saul Dubow, Cambridge professor van Statebond-studies en ereprofessor by UK gesê: “Natuurlik weet ons nie wat verlore is nie, maar ons kan met redelike sekerheid sê dat 65,000 boeke en ‘n groot versameling manuskripte sal verlore wees.”

Verskeie indiwidue het al aangemeld dat ‘n groep van 3 mense betrokke was by die stigting van die brand, alhoewel nog net een – ‘n 35-jarige man – geïdentifiseer en gearresteer kon word.

Baie UK-studente is van byna al hul besittings deur die vuur beroof, maar danksy verreikende gemeenskapspogings, is UK-studente byna “oorweldig” deur substansiële bydraes van weldoeners. Studenteleiers en vrywilligers het verseker dat almal die nodige hulp ontvang.

Lees Verder

Hertz: Merkwaardige verskille tussen mens en dier

Janike Smith

Herbarium: maklike tuinwenke vir dié sonder groen vingers

Janike Smith

“Herrie” en ander minder bekende neologismes

Kyla van der Riel

Herontdek die storie agter ‘n goue idioom

Renska Krynauw