Jaargang 43
April 2021
Foto: Bianca Stander

Heel bo-op die Afrikaans-afbakening vir die eksamen staan daar: idiome. Op die nimmereindigende lys van idiome gewaar ek die volgende: Die oggendstond het goud in die mond. Idiome het, net soos die Afrikaanse taal, ‘n spesiale geskiedenis. Spaar jou die verwarring van saamgeskommelde woorde en reis na ‘n nuwe wêreld om die Afrikaanse idioom te herontdek.

Die genoemde idioom se betekenis, naamlik dat jy baie kan bereik en werk gedoen sal kry as jy vroeg opstaan, loop hand aan hand met ‘n Hongaarse spreekwoord wat sê: "Die man wat vroeg opstaan, sal ‘n goue muntstuk kry.“ Dié Afrikaanse idioom stam oorspronklik uit die Romeinse mitologie en verskyn in talle Latynse poësie. Dit word gekoppel aan Aurora, die Romeinse godin van die dagbreek (“oggendstond“), wat in die Griekse mitologie ook as Eos bekend staan. Sy het haar naam dus gekry omdat aurora die latynse woord vir dagbreek is. Selfs Shakespeare was beïndruk met die naam en het dit in sy Romeo en Juliet benut.

Die godin het elke oggend uit die see opgerys en met haar perdekar deur die hemelruim gevaar. Sodoende het sy die dagbreek, voordat die son verskyn het, aangekondig. Sy was so erg ontsteld oor die dood van een van haar seuns dat sy haar trane as dou op die aarde laat sprinkel het. Wat interessant is, is dat haar aanvangsletters dieselfde is as die chemiese formule vir goud (Au) en daar word bespiegel of aurora van die latynse woord vir goud, aurum, afgelei is. Wat wel seker is, is dat daar al eeue lank ‘n verband tussen die oggendtyd en goud (die oggendstond wat waardevol is) bestaan. Dié verband word verder in die Sweedse tradisie uitgebrei. Daar word oorvertel dat daar goue ringe uit die godin se mond val as sy lag en goudstukke as sy praat (dit verduidelik die “goud in die mond“).

Dit is duidelik dat goud ‘n belangrike rol in dié idioom speel, maar waar kom die eeue oue fassinasie met goud vandaan? Wanneer ons met vandag se kennis goud se beskikbaarheid en eienskappe met die ander elemente op die periodieke tabel vergelyk, kan ons beaam dat goud dié ideale stof is om as waardevol te beskou. In Antieke Egipte was geel ‘n simbool van ewigheid en onvernietigbaarheid en so het goud vinnig ook ‘n simbool van onsterflikheid en mag geword. Die standbeelde van hul gode is uit goud geproduseer en die grafte van farao’s is met goue items gevul. Die vraag is egter, wat het goud vir hulle wáárdevol gemaak? Die waarheid is onder andere dat hulle van die glans en estetiese waarde van goud gehou het. Dit is menslike natuur om van glansende objekte te hou. Navorsers glo dit is te danke aan ons primitiewe instinkte omdat glans destyds geassosieer is met water.

So, volgende keer as jy ‘n misterieuse idioom moet leer, onthou dat die lewensles gekoppel is aan eeue-oue geskiedenis. Boonop sal jy vir jou volgende eksamen beslis nie van hierdie idioom vergeet nie.

Lees Verder

Herkén jy die naam?

Emma Olivier en Renke Lorio

Hermiet

Leah Coetzee

Heroorweeg

Emma Craucamp

“Herrie” en ander minder bekende neologismes

Kyla van der Riel