Jaargang 43
April 2021
Foto: Verskaf

Ons almal het al stories van versteekte Herkulesse gehoor – mense wat uit paniek motors kan oplig om ander te red of liggaamlik ver buite die verwagte spektrum van menslike krag optree.

Byvoorbeeld, Lydia Angyious wat in 2006 met ‘n ysbeer in Quebec gestoei het om haar kinders te beskerm. Of Lauren Kornacki wat in 2012 ‘n BMW van haar vasgekeerde pa gelig het. Hierdie voorbeelde het een ding gemeen: ‘n konsep met die naam “histeriese krag”.

Histeriese krag is buitengewone krag wat normale mense ervaar in ‘n situasie van nood. Dit is vreeslik moeilik om te bestudeer, aangesien die vereiste omstandighede nie in ‘n laboratorium eties nagemaak kan word nie.

Hoe is hierdie egter moontlik? Navorsers spekuleer dat verskeie faktore ‘n rol speel. Eerstens is mense fisies sterker as wat ons dink – werklik inspirerend, nè? Navorsers skat dat die gemiddelde mens ongeveer slegs 60% van hul spiermassa se absolute krag tydens maksimum oefening gebruik.

Hoekom?

‘n Mens se brein verhoed absolute maksimum krag. Hierdie tipe krag kan ernstige beserings of selfs die dood tot gevolg hê. Al kan ons spiere in ‘n situasie van lewe of dood dalk die krag hanteer, is ons gewrigte, tendons, ligamente en harte nie noodwendig op dieselfde vlak nie.

“Ons breine probeer altyd seker maak dat ons nie tot die punt van besering gedruk word nie,” verduidelik dr. Paul Zehr, ‘n professor van neurologie en kinesiologie aan die Universiteit van Victoria in Kanada.

Pyn en uitputting is dus byna heeltemal ‘n verstandelike ding – liewer ‘n emosie as ‘n weerspieëling van wat ons werklike fisiese toestand is.

Zehr verduidelik ook dat die bekende adrenalienhormoon en sekere ander middele wat jou brein beperk om pyn en uitputting gevoelens te veroorsaak, ook ‘n groot rol speel. Volgens Gordon Lynch, ‘n fisioloog by die Universiteit van Melbourne, Australië, is abnormale adrenalienvlakke grootliks verantwoordelik vir die gevalle van histeriese krag wat gerapporteer is.

In 2010 het ‘n man, Tom Boyle, ‘n 1300kg motor gedeeltelik van ‘n tiener gelig. Hy kla toe later van ‘n seer mond en na professionele inspeksie word daar bevestig dat hy 8 tande gekraak het toe hy gekners het om die motor op te lig. Die adrenalien het net heeltemal sy pynaanwysers in sy brein gedomineer.

Ons liggame hou aan om ons te verras – moet net nie vandag jou innerlike Herkules gaan toets nie!

Lees Verder

Herdenking: Woorde, aksies en vorentoe

Cara Reyneke

Herbeplan jou biologiese klok voor dit té laat is

Leanri Pretorius

Herontdek die storie agter ‘n goue idioom

Renska Krynauw

Herbarium: maklike tuinwenke vir dié sonder groen vingers

Janike Smith